Thursday 3 May 2012

My getuienis


















Ek skryf my getuienis neer omrede die Woord in Openbaring 12:11 sê dat ons die vyand sal oorwin deur ons getuienis. My gebed is dat elkeen wat dit lees nader tot God sal leef en dat Sy Naam hierdeur verheerlik sal word. AMEN

My ouers is geskei al van net na my geboorte af. Die rede hoekom ek met die stelling begin is ‘n positiewe een! Ek was gelukkig om in twee huise groot te word. Aan my pa se kant het ek ongelooflik baie van die lewe geleer. Van al die lekker dinge soos vakansies, kuier en net hoe om die lewe te geniet. Ons het genoeg geld gehad maar was nog steeds plat op die aarde mense. Ek het ook geleer hoe om vir geld te werk en nie net te kry nie en ook baie van besigheid. Aan my ma se kant was dit finansieël glad nie so wel af nie, maar ek het meer daar geleer as wat ek ooit besef het. Ons is in die kerk groot gemaak en ek het gelewe vir Sondae. Ek is as tiener-kerk leier aangestel en het great mense leer ken. Ek is gedoop, het in tale gepraat, duiwels uitgedryf ens.

By die skool is ek van kleuterskool af ‘n bok vir sports. Was altyd deel van die groep wat aanjaag maar het seker gemaak ek word nooit gevang nie! Hier van std 1 (Graad 3) af het ek baie soet begin word en was gou bekend as die skool se nerd. Dit was nie so lekker nie! Hoërskool het ek vinnig terug in my kleuterskool gewoontes geval maar die kattekwaad in die hoërskool is bietjie erger as dit van die kleuterskool! Std 7 (Graad 9) het ek onder groepsdruk begin rook en so bietjie begin drink. Alles baie onskuldig en maar net eintlik om aan te jaag!

Dit was in hierdie tyd dat my vriende by die kerk my erg gedrop het. Ek voel nie dis nodig om in detail in te gaan nie, maar dit is wel belangrik om te sê dat ek dit as skeinheiligheid gesien het. Ek is toe as tiener-kerk leier afgedank. Na die voorval het ek skeinheiligheid ook in baie ander kerkmense gesien en ek het myself stelselmatig gedistansieer van die kerk af. Dit is vandag nog ‘n groot probleem onder baie mense! Wat ek nou besef is dat ons almal maar net mense is wat gereeld foute maak en mekaar onwetend of doelbewus seer maak of in die steek laat. Maar ons vergeet so maklik dat ons Vader in die hemel ons NOOIT in die steek sal laat nie! Ons sit ons oë so maklik op mense in plaas van God!

Met die het ek meer begin rook en meer begin drink. Daar was ook ander goed soos dagga wat ek begin geniet het. Ek dank nou nog die Here dat ek nooit sterker dwelms eers probeer het nie al was die geleendhede daar. Na skool het dinge eers lekker begin raak! Toe was daar baie partytjie tyd! Ses dae ‘n week groot party!!! (Die club was Sondae toe, so ek kon een dag rus!) Ek het in my pa se restaurant gewaiter en het baie goed gedoen. Dit was nie ‘n probleem om gou op ‘n aand ‘n paar honderd Rand uit te kuier nie. Vrouens was ook ‘n groot deel van my mikpunte in die tyd (veral nadat ek uit ‘n vaste verhouding gekom het en toe sommer vir ‘n paar jaar op die rebound gaan!) Daar gebeur toe ‘n ding in my lewe wat ek seker eendag nog sal bely voor vreemde mense wat my bietjie laat afskaal het na net drie tot vier keer ‘n week kuier! Ek het ook by die restaurant begin manage wat ongelukig vir my, my finansies bietjie kort geknip het.

Gedurende die tyd het ek baie begin dink oor die dinge van die lewe soos hoekom is ek op die aarde? Wat is my drome? Wat was my drome as kind? Hoeveel keer kan ‘n ou nog dronk word? Ens….. Ek was “Loftus vir Jesus” toe maar was nog nie reg om ALLES prys te gee vir Jesus nie. Ek ontmoet toe ook vir die eerste keer in ‘n lang tyd ‘n oulike, ordentlike girl en ons begin toe date! Dit het baie goed gegaan maar sy het al hoe meer vir my raad gegee. In my oë dra ‘n man die broek in ‘n verhouding en geen vrou sal vir my sê wat om te doen nie! Die Bybel sê mos ook so. Ek beeindig toe ook sommer die verhouding. Ek het ook bedank by die restaurant einde 2008 eerstens omrede ek myself nie meer geken het nie. Ek was baie meer aggresief, kort van draad ens. My Bybel het ook vir my gesê dat swart mense nie mense is nie (dier sonder die kroontjie), en dat hulle dus dan nie hemel toe kan gaan nie. Ek kon vir jou alles verduidelik behalwe die gevalle wat die Heilige Gees met swart mense gewerk het. As ek sewe uur die nuus aan gesit het, het my bloeddruk ook gestyg! Dan praat ek nie eers van by die werk nie! Geen Liefde nie!

My plan was om my eie besigheid te begin en om meer tyd aan dinge te spandeer wat regtig saak maak soos kuier saam met vriende ens. (Ek kon nie altyd nie omdat ek naweke gewerk het.) Diep binne in my wou ek ook my verhouding met God reg kry wat ek in elk geval geglo het was reg! Ek het ook vasgeklou aan ‘n versie wat sê dat jy eers die Koninkryk van God moet soek en dan sal Hy jou paaie gelyk maak. In Februarie 2009, kom eet my oom toe by ons en vertel vir ons van mense wat besig is om vir Jesus om die land te stap. Iets binne in my sê toe vir my ek moet gaan saam stap. HAHAHA!!! Ek???? Ek’t nege jaar laas geoefen, is BAIE onfiks en stap nie eers 100m nie! Plus hulle het blykbaar kla begin so logies kan ek nie deel wees van die hele storie nie.

Maart maand woon ek toe die Daniël Konferensie by NG Moreletapark gemeente by. Een van die eerste sprekers (weet nie wie dit was nie) sê toe sommer reguit dat julle wat so praat dat vrouens nie op jou kop sal sit nie ens. JULLE IS SELFSUGTIG!!!!! Die boodskap slaan my toe onverwags tussen die oë en ek besef dat daar baie is wat ek sal moet reg maak voor die Here. Daar kom toe ook ‘n man met die naam Beyers op die verhoog om te kom praat. Hy vertel toe van ‘n visie wat die Here hom gegee het om om die land te stap en te bid. Hy noem dit project Firecloud (www.firecloud.info). Dadelik is die gevoel terug dat ek ook moet gaan stap. Ek sê toe net Here, as dit U wil is moet U vir my ‘n bevestiging of teken of iets gee want hulle het klaar begin stap! My woorde was skaars koud toe kondig hy af dat daar nog plek is sou enige iemand belang stel om saam te stap hy hom na die tyd voor by die toonbank moet kry. Ek dog toe maar wel, ek het gevra! Na die diens is daar niemand by die toonbank nie. Dis toe net hier waar ek ‘n besluit moes maak. Los ek dit (die maklike uitweg) of vat ek die woord wat die Here vir my gegee het en jaag dit na! Ek los toe my nommer by die toonbank sodat Beyers my maar kan skakel. Dit was die Saterdag. Teen Dinsdag het nog niks gebeur nie. Ek bel toe maar die kerk en sukkel toe daar net so om reg te kom. Teen Vrydag was ek redelik gatvol! Ek sê toe vir die Here dat as dit regtig Sy wil is dat Hy nou hier moet begin help. Ek kan nie die presiese loop van sake onthou nie maar praat toe nog dieselfde dag met Beyers oor die foon wat my toe ‘n ander ou se nr gee wat in die ander groep stap en dit reël. Baie bly, bel ek die ou wat vir my sê dat ek net die week van die 11de tot die 18de April kan gaan stap en dit kos R2500. PROBLEEM!!! Ek het Desember laas geld gekry en het toe ‘n tydelike week lange pos gekry in die Clint Eastwood fliek wat binne die week van die stap val. R4000 vir ‘n week se werk betaal darem ‘n rekening of twee! Plus my graadeplegtigheid is 14 April. 15 April is verkiesing en direk daarna vertrek ek Greytown toe vir die Mighty Men Conference 2009. So as ek nie gaan stap nie is dit mos ‘n wen-wen situasie. Reg? Verkeerd!!! Ek besluit toe om te bid en sê vir die Here dat Hy gesê het ek moet gaan stap en dat NIKS my gaan keer nie. Ek sal alles opgee maar Hy moet die geld voorsien. My oom sê toe vir my hy sal help sponsor. Maandag bel ek die ou terug en bespreek my plek vir die stap. Sorry! Hy het my plek klaar gevul! Op min of meer dieselfde oomblik sms Beyers my en sê dat as ek nie reg kom nie is daar nog plek in sy groep. Iemand het kanseleer! Lang storie kort, het ek gaan saam stap! Hier is wat als gebeur het: (Daar mag dalk een of twee goed wees wat ‘n dag uit is! Jammer! Vergeef maar!)

Saterdag oggend, 11 April 2009, het ek vroeg opgestaan, ‘n sigaretjie gerook en hek toe gestap waar iemand my vyf uur daai oggend kom optel het. Ons kry toe nog drie mans langs die pad en ry van daar af Piet Retief toe. By Piet Retief se kerk aangekom het hulle vir ons ‘n lekker ontbyt gemaak. Wildsvleis! Die ouens ken van lekker eet! Ons deel toe met hulle die visie van Firecloud en Jesus het toe ook ‘n paar goed daar geopenbaar en die mense geseën. Ek wil nou nie te veel oor elke insident uitbrei nie. Sien die ander aangehegte dokument of gaan kyk op die webblad. Ons is toe deur die Swaziland grens en het die vorige groep stappers by Big Bend ontmoet waar ons oorgevat het. Dit was al laat maar ons moes tot by die grens stap waar ons in die SA kant by ‘n karavaankamp oornag het. Ons was sewe vreemde mans en een trok met ‘n vrieskas en klomp beddens in en natuurlik die trok bestuurder. Die aand net na ete het ek toe weer die tweede keer gou skelm gaan rook (die eerste een was iewers op die grens). Ons het t-shirts aan gehad en ek wou nie met die aan in die pad stap en rook nie. Ek kon nie glo ek het heeldag uit gehou nie! Al agt mans sit toe die aand in ‘n kring en stel hulself voor en elkeen moes ook twee name opgee waarvoor hy die week wou stap. Elke ou het maar sy familie se name op gesit. Behalwe Beyers. Hy gee toe Zuma se naam op. Daar het ek toe ook ‘n pa se liefde vir sy ongerede seuns gesien (wie vandag kinders van God is!). Beyers het my ook mooi laat verstaan dat my gerokery nie geduld gaan word nie! Na die meeting het ek ‘n ent weg gestap, ‘n sigaretjie opgesteek en besluit dis nou maar my laaste een. Dit was eerlik waar die lekkerste sigaret wat ek ooit in my elf jaar gerook het! Ek het die sigaret dood gemaak, die pakkie weg gegooi en Jesus het my krag gegee om tot vandag toe nie weer te rook nie! Al word ek vandag nog lus (en ek doen!) help Hy my om my lus te oorwin. Maar ek moes die besluit maak!

Die tweede dag het ons by die Jozini dam oor daai hoë berg gestap en die aand by “Ingwavuma Education department facilities” oorgeslaap. Daar het ‘n swart vrou met die naam Zanele vir ons ‘n enorme groot pot geleen om ons aartappels in gaar te maak. Ons kon die pot nie gebruik nie en sy sê toe sy het vir ons’n ander pot by haar huis. Ek ry toe saam met Zanele en Beyers om die pot te gaan omruil. Zanele vra ons toe of ons haar nie daar naby kan gaan aflaai nie. Sy moet nog gaan werk en voorberei. Toe werk sy direk vir Zuma! Dit nadat ons gisteraand vir hom gebid het! Zuma is toe geskeduleer om die volgende oggend vroeg, skaars ‘n kilo van waar ons slaap, ‘n verkiesingspraatjie te gee. Ons kon toe vir die werkers daar asook vir Zuma ‘n Firecloud t-hemp gee. Ons het ook die grond en die mense geseën met gebed. Toeval? Ek dink nie so nie! Terug by die kamp kon ons heerlike aandete geniet. Ons almal het saam gestem dat dit God self is wat ons spanlede gekies het. Al agt vreemde mans het dadelik ‘n sterk bond gevorm. Daar was vir niemand gesê om kos te maak of skoon te maak of enige ander take uit gedeel nie. Almal het net gehelp. Ons kon mekaar daardie aand ook bedien en het nagmal saam gebruik.

Die volgende oggend is ons vroeg op die pad in ‘n poging om die Zuma verkeer te mis. Beyers laat val toe die ketel en die pas gekookte water val op sy voet waarmee hy moet stap. Die vel krul dadelik op. Jesus was daar! Die brandwond is toe presies so dat dit net bo sy tekkie-lyn eindig en daar geen wrywing teen die wond sal wees nie! Tot op hede was als nog bietjie vreemd vir my. Ek bedoel hier stap ek man-alleen tussen die plakkers en ek moet vir hulle bid! Dis iets wat ek nooit sou kon raai nie! Maar ek het besluit vandag gaan ek nie net vir hulle bid nie, maar hulle bedien ook. God het dit gehoor! Want dit was maar ‘n moeilike oggend omrede die Zuma ondersteuners wat verby gery het, nie so vriendelik met ons was nie. Hulle het seker gedink ons doen een of ander politieke stap! Amper so ‘n kilo in my twee kilo skof in kom daar ‘n swart man na my aangehardloop. Tot my verbasing vra hy toe nie vir geld nie, maar vir gebed vir sy besigheid! Ek kon dit nie glo nie! Nadat ek vir hom gebid het vra hy toe of ek nie dalk vir hom ‘n Bybel het nie. Ek stap toe maar die kilo terug saam met hom om vir hom een in die kar te gaan haal. By die kar kon Bertus verder met die man deel. As ek reg onthou het hy homself daar bekeer! Maar dit was iets groots! Hier is hy:




Dit was net WOW!!! Hoe meer konfrontasie ons gekry het, hoe meer vasberade was ons om God se wil te doen! Ons kom toe die namidag by die Kosibaai grenspos. Ons het nie slaapplek vir vanaand nie! Na gebed seën die Here ons toe met ‘n ongelooflike mooi kampplek vir die aand! Die plek se naam is Lala Lapa. ‘n Warm stort was lanklaas so verfrissend!

Dinsdag oggend, 14 April het ons by die garage gestop om die karre weer vol te maak. By die winkeltjie terwyl ons besig was om te betaal stap daar ‘n man in. Mens kom sommer dadelik agter aan die man se houding dat hy die baas is en dat die verhouding tussen hom en sy swart werkers maar baie ooreenstem met my valse teorië. Ons begin toe met hom chat en vra of ons vir hom en sy besigheid mag bid. Toe hy instem roep ons al sy werkers bymekaar en laat almal bymekaar in haak (ek ook!). Mens kon sommer aflei dat dit ook vir die ou vreemd was! Maar hy het na gebed een van daai “SA turn 2 God” bortjies buite by sy garage opgehang! Wanneer laas het jy iemand vreemds sommer terwyl jy inkopies doen, van Jesus vertel? Eks net so skuldig! Is ons skaam vir Jesus? Ons stap vandag Hluhluwe toe. Dit was ‘n lekker bewolkte dag met ligte reën op party plekke. Net wat ons nodig gehad het. Almal het ‘n great dag op die pad beleef!

By Hluhluwe het ons vir Marlene en haar man Frans ontmoet wat vir ons slaapplek gereel het vir die aand. Voor ons klomp ander mense sou join vir aandete was ons eers na Marlene se huis toe. Ek skrik myself dood toe ek haar huis sien! Dit lyk soos ‘n Israelse padkaart! Elke klip, elke plant ens is op een of ander profetiese manier geplant! Ek dog die mense is nie lekker nie! (Ons is maar vinnig om te oordeel!) Eers moes ons bid vir ‘n skeur in die aarde wat van Juresalem af loop tot in Hluhluwe en daarna vir Maputoland self. Dis hier waar ek besef het my hart is verkeerd. Die vrou/gesin het ‘n absolute passie vir die Here! Hulle is ‘n voorbeeld! Nie ‘n skok nie! Daarna het sy ‘n baie duur olie gebring om ons te salf. Elkeen het letterlik net ’n baie klein bietjie olie op sy voorkop gekry. Sy is baie suinig met die olie! Anton, een van ons spanlede, voel toe na die tyd dat sy duim bietjie klam is wat hy van sy voorkop af kry en sê toe vir Marlene hy wil haar salf. Hy salf haar toe en bid vir haar. Ons hoor toe eers later dat haar dogter dit gesien het en vir haar ma na die tyd gevra het hoekom sy so baie van die olie vir ons gegee het. Haar ma sê dat sy ook gevoel het asof Anton amper ‘n hele beker oor haar uit gooi. En dit van net ‘n bietjie leftover klammigheid op sy duim! JESUS IS ALIVE!!!! Na al die het ons gaan braai en tot middernagtelike ure met die mense gedeel. Ons het ook ‘n 3meter hoë kruis agter op ons trailer die heeltyd aan gesleep. Die Heilige Gees lei toe vir Beyers om die kruis vir Marlene-hulle te gee sonder dat ons weet dat dit hul gebede verhoor! Ons het later gehoor dat Marlene die kruis in die middel van Hluhluwe gaan plant het op die verkeerssirkel en dat die tuin van die sirkel ook in die vorm van ‘n kruis moet wees. Dit was blykbaar die opdrag van die burgermeester!

15 April. Ons stap vanaf Hluhluwe tot by Empangeni. Als is deurmekaar. Ons weet nie wie moet waar stap nie. Dis net chaos! Ons besluit toe maar om ontbyt te maak sommer langs die pad en al wat ‘n demoon is te bestraf. God sê toe vir ons dat dit nie demone is nie maar ons self! Ons het die vorige aand vir mekaar vertel hoe moeilik die stretch is. Die Woord sê dat die krag van lewe en dood lê in die tong! Ons moet pasop wat ons sê. Veral om die braaivleis vuur! Nadat ons om vergifnis gevra het en lewe gespreek het, het alles beter begin gaan. Ek het baie vrugte stalletjies langs die pad gekry. Ek stop toe by een en begin met die vrou praat. Sy kan glad nie engels praat nie. Al wat ek van Zulu ken is dit wat ek in die fliek Faith Like Potatoes gesien het. Ek sê toe maar net: sea bonga Nkulukulu! Of so iets. (Ek het nie ‘n idée van spelling nie!) Ek beduie toe ek wil vir haar bid. Tot op hede het die vrou baie confused gelyk. Ek bid toe maar sommer in die hemelse taal Afrikaans dat God haar en haar familie en besigheid sal seën. Met die begin sy haar twee hande vol maak met vrugte en gee dit vir my en beduie dat ek dit moet neem vir energie vir die stap! Die swart vrou, wie se lewe van die vrugte afhang gee dit vir my verniet! En dit was nie haar slegte vrugte nie! Dit was baie goeie kwaliteit en baie lekker!


Iewers langs die pad was die omstandighede ook so dat ons aan die linkerkant van die pad moes stap. Terwyl ek stap en bid “dwaal” ek skielik van die pad af. Voor ek nog kon weet wat aangaan kom daar ‘n kar in die geel streep van agter af verby my gejaag. Die Here het my definitief daar gered! ‘n Soortgelyke gebeurtenis het met ‘n mede stapper ook gebeur! Daai aand het ons nie slaapplek gehad waar ons beplan het nie omrede die trok nie kon inpas nie. Toe book ‘n vreemde ou vir ons by ‘n lodge in op sy onkoste. Ander mense het ook vir ons kos by hul huis verskaf. Ons word baie gespoil!

Die volgende oggend by die lodge se ontbyttafel bid ons vir Bertus se dogter sommer so oor die foon. Sy was oppad kraamsaal toe vir hul eerste! Om in die publiek ‘n klomp manne om een ou se selfoon te staan en bid het almal van ons so knop in die keel gegee! Ons stap vandag tot in Stanger. Anton se voete is teen die tyd al bekend en is vir almal ‘n inspirasie. Hy het al vroeg die week reuse blase onder sy voet gekry. Elke dag was dit dieselfde resep gewees. Medies gewys kan hy nie verder stap nie. Maar hy weier om op te gee. In die aand bid ons vir sy voete en die volgende dag stap hy sonder probleme. Die aand is hy weer vol pyn! Elke dag! Prys die Here! Ek het ook geestelike oorlogvoering beter verstaan. God het vir ons die opdrag gegee om die pad te stap. Ons moet gehoorsaam! Soos ek in die skouer van die pad stap teen aankomende verkeer bid ek net en proklameer die land vir die Koning. Daar het karre en trokke op menigte plekke baie naby aan my verby gery. Maar ek het nie ‘n cm plek gemaak nie. Die is God se pad! Hulle moet padgee! Daar het nie eens ‘n klippie teen my opgeskiet nie. My hoed het net een keer afgewaai en dis toe ek nie bid nie! As jy in God se perfekte wil lewe, kan daar maar enige iets oor jou pad kom. Dit SAL die knie buig voor ons Almagtige God. Ek het so ‘n stuk saam met Beyers in die kar gery. Terwyl hy een van sy skofte stap gee die Here vir hom Jesaja 26:1: “In die dag sal hierdie lied gesing word in Suid - Afrika; ‘n Sterk land het ons; God stel heil tot mure en skanse. “ Dit som basies die einde van Firecloud op. Hy vra toe: Is dit so Here? En Hy antwoord: Kyk op na die wolke. En in die wolke staan daar baie duidelik geskryf “Ja” met ‘n kruis tussen die letters. In ‘n vorige week was daar ‘n soortgelyke gebeurtenis en toe die ou vir die Here vra of dit so is staan daar duidelik in die wolke geskryf: “YES”. Ek wil vir jou sê wat hier lees: JESUS LEEF!!! Ons sien ook vir die eerste keer die see en kon bietjie gaan afkoel. Daai aand het ons weer mekaar bedien tot laat!

Vandag is ‘n kort stap. Victory is in sight! Die metro-polisie het ons vergesel op ‘n ongelooflike besige snelweg. Teen twee uur die midag is ons in Durban en kon die middag bietjie rus! Ons kry toe weer verblyf in Umhlanga. Baie, baie netjiese verblyf met ‘n see uitsig! Plus daar was genoeg pettycash oor gewees om bietjie te gaan uiteet! Jesus wil ons spoil! Die aand het Beyers ons elkeen se voete gewas en vir ons gesalf en geprofeteer. Na die tyd kon Fanie dit ook vir Beyers doen. Dit was ‘n great aand!





Die laaste dag. 18 April 2009. Die geboorte van Martin de Jager! Die oggend ontvang ons ‘n vrou met haar twee seuns en die een se girlfriend by ons huisie. Sy het spesiaal van Pretoria af deurgery om gedoop te word. Sy was jare terug in Israel om gedoop te word waar die “pastoor” vir haar twee ure lank verduidelik het hoekom sy nie gedoop moes word nie. Maar Jesus het haar aanhou sê sy moet gedoop word. Jare later ry sy oor die 600km om gehoorsaam te wees. Na ons hulle bedien het is ons af see toe om haar (en toe


sommer haar oudste seun ook!) te gaan doop. God het met ‘n paar van ons manne ook gepraat. Ek en drie ander stappers is ook net daar gedoop! Na die tyd is ons terug na die huis toe en die Heilige Gees het kragtig tussen almal beweeg. Die seun se t-hemp het ‘n draak op gehad wat deurbraak verhoed het. Nadat ons van die hemp ontslae geraak het kon mens sien hoe die Gees werk! Die tannie het ook ons elkeen se voete gesalf en oor ons geprofeteer. Ek het skaars twee woorde met die tannie gepraat die heeldag. En terwyl sy my voete salf, kyk sy op in my oë en sê: Die Here is trots op jou. Nou ek wil dit vir jou belowe. Daar is nie genoeg skatte in die wêreld wat vir jou sulke “satisfaksie” gee as wanneer jou Pappa Koning na jou kyk met trotse oë nie. Dit laat my elke keer huil om net daaraan te dink! Ek het ook nie beplan om drank te los nie. ‘n Glasie brandewyn is mos moedersmelk so om die vuur (of enige plek!). Die Here gee my toe Spreuke 31. Lees vanaf vers 3: “Gee jou krag nie aan vroue of jou omgang aan die wat konings uitroei nie. Die konings, o Lemuel, die konings moet nie wyn drink nie, en die vorste moet nie sterk drank begeer nie; anders drink hy en vergeet die insettinge en verdraai die reg van al die ellendiges. Gee sterk drank aan hom wat wil ondergaan en wyn aan die wat bitter bedroef is. Laat hy drink en sy armoede vergeet en aan sy moeite nie meer dink nie.” Nou ek gaan nie vir jou sê wat om te doen nie. Maar God het vir my baie duidelik gesê om NIKS meer te drink nie. Ek het tot vandag nog nie my lippe aan alkohol gesit nie en sal ook nooit weer nie. Maar jy het vandag ‘n keuse om te maak. Wil jy net ‘n christen wees of wil jy in God se volle plan met jou lewe in stap, ‘n koning wees. Dis baie eenvoudig. Jy gee of ALLES vir God of jy mis God se doel met jou lewe. Dan praat ek nie eers as jy lou is nie. God sal jou uit sy mond spoeg. Hy sê dit sal beter vir jou gewees het om ‘n satanis te wees. Jy en niemand anders nie, moet die besluit maak.



Beyers het my ’n vraag gevra aan die begin van die week. Hy het gevra of is ek regtig lief vir die groep mans? Ek het hulle nie geken nie! Hoe kan ek? Maar die vraag gaan ook verder! Het jy jou vyande(vir my was dit o.a. swartes) lief? Dis ‘n opdrag van God dat ons moet! Maar hoe???? Aan die einde van die week kan ek hom antwoord. Moenie met jou mens-oë na iemand kyk nie. Kyk na hom of haar deur die oë van Jesus. Hoe sien Jesus hom of haar? Jesus ken daai persoon beter as hy/sy-self! Hy ken jou beter as jouself! Dan is dit nie meer ‘n opdrag van God nie. Dan kan jy nie anders as om lief te wees vir ander nie! Vyand of nie! Wees lief vir mekaar! Dit oorwin ALLES!!!

Verder oor die stap kan jy op www.firecloud.info gaan lees. Die naweek hierna was MMC’09. Bertus het van Durban man-alleen Greytown toe gestap. Dis nog ‘n lang getuienis op sy eie!

‘n Paar dae later is ek en twee vriende MMC’09 toe. Teen Woensdag was daar meer as 100 000 mans wat wag vir MMC om teen Vrydagaand te begin. Ons het kamp opgeslaan en het net ‘n great tyd gehad. Ons al drie se lewens is nie net aangeraak nie, maar verander. Nie deur Angus Buchan nie. Maar deur ‘n Lewende God. Hierdie is ook wat oom Angus in Julie 2009 in Rustenburg gesê het. Dit was die heel week onweer. Teen Woensdag was dit nog baie koud en reënerig. Oom Angus het baie gestress en gebid. God het vir hom gesê om nie na die weer te kyk nie, maar sy oë op Hom te hou. By Woensdag het die temperature begin styg en die weer het opgeklaar. Die hele naweek deur was dit reg rondom MMC bewolk maar daar was nie een wolk bo die event nie. Teen Vrydag is daar ‘n wêreld rekord gebreek. Oor die 200 000 mans!!! Oom Angus het woord gebring Vrydagaand en een derde mans het tot bekering gekom! Die Bybel sê dat die hemele party hou as een siel tot bekering kom. Ek kan vir jou een ding sê. Daai aand was daar ‘n baie groot party! By Shalom ook! Die volgende oggend het ons almal weer bymekaar gekom. Oom Angus het gesê hy was bietjie grieperig die Vrydagaand maar Jill, sy vrou het vir hom gebid en God het hom genees. Na die preek kondig hy toe af dat ons kan breuk tot die aand toe. Maar ons moet tyd met God spandeer! Ons drie het natuurlik nog nie gestort nie en haas toe na die naaste plaasdam om te gaan swem. BAIE KOUD!!!

Oom Angus wou toe die +-30 Australianers groet wat vir die naweek SA toe gekom het. Andy (Angus se seun) het net klaar praise en worship gelei en stap toe onder die verhoog in waar sy pa net klaar met die Ausies gesels het. Oom Angus collapse toe en Andy kon hom vang maar hy het weer bygekom en is huis toe gery om ‘n koppie tee te gaan drink. Soos hy na sy stoep toe stap sien sy kleinseun hom en begin huil. Hy het geweet daar is iets fout al het oupa Angus vir hom gesê als is ok. Oom Angus het toe weer collapse. Die keer het sy bloeddruk na nul toe geval. ‘n Helikopter is dadelik vanaf Durban gehaas. Kort daarna land die helikopter op Shalom plaas. Nie sleg vir ‘n land wat die mense sê is besig om onder te gaan nie! Intussen is al die mans terug geroep na die verhoog toe. Daar is Skrif gelees en al die mans het saam gebid vir oom Angus. Ons het in kleiner groepies opgedeel en gebid vir volkome genesing. Dit was heel hartseer en spannend! Oom Angus is toe in die helikopter gelaai en Pietermaritsburg toe gevlieg. Hy sê hy het totale vrede ervaar en het geweet hy staan voor die poorte van die hemel. Hy kon sien hoe ons vir hom bid. Vyftien minute later stop hulle by die hospitaal waar een van SA se beste spesialiste reg staan. Hy sê hulle sit goed op sy hart en toe staan die dok terug en krap sy kop. Hy sê oom Angus is ingebring vir ‘n hartaanval maar sy hart makeer niks. NIKS!!! En sy bloeddruk is normaal. Oom Angus is 61 jaar oud. 20 min na hy ‘n hartaanval gekry het sit hulle hom op’n treadmill vir toetse. ALS was reg. Hulle stel dit toe dat hy opdraand hardloop. 20 minute se gehardloop later. ALS is reg! Drie ure nadat hy die plaas verlaat het is hy terug op sy plaas. Maar sy familie was besorg oor hom en het hom laat rus. Toe die nuus ons tref dat hy reg is, was dit moeilik om die trane te stop. Toe ek omdraai sodat my pelle my nie kan sien nie (ons het heel voor gesit), sien ek net groot boere Afrikaner mans. Almal huil snot en trane. Hoekom? Nie so seer oor oom Angus nie, maar omdat meer as 200 000 mans ooggetuie is dat Jesus leef! ‘n Wonderwerk het voor ons oë gebeur! Daai aand het ons bymekaar gekom. Nie vir oom Angus nie. Vir Jesus! Die beste deel van MMC’09 was toe oom Angus nie daar was nie! Ek was al ’n hele paar keer op Loftus. Tot vir die Super 14 finaal. Daar is nie ‘n gees wat naby aan die Gees gekom het wat ons daai aand gehad het nie. Dit het liggies begin reën. Wat doen ons? Ons sing net harder! Beste praise en worship ooit! Die volgende oggend was Angus terug om vir ons Woord te bring! Sy boodskap aan ons vandag is simpel. Die tyd is min. Spandeer dit wys!

My lewe is verander. Ek het getuig in die kerk. Ek het selgroepe gejoin. Ek was saam met die kerk op ‘n uitreik by Burgersfort waar ons swart pastore oplei. Hy sorg nog elke dag vir my! Dit was nie net in daai “spesiale” tyd nie! Ek het nou nog nie ‘n inkomste nie! So geld is skaars! Maar Hy leer my ongelooflik baie rondom geld. God het sekere beginsels soos die saai en maai beginsel. Gehoorsaam dit ten alle tye! Hy sê ook betaal jou taxes! Hy sê ook om ‘n tiende van jou inkomste vir Hom te gee. Alles behoort in elk geval aan Hom! Dit is nie joune nie! Ek vat toe my bietjie geld en bid vir Hom en sê dat omrede ek meer van Hom verwag in die tyd van my lewe gaan ek vir Hom meer as 10% gee. Maar Hy moet voorsien! Ek moes toe o.a.’n R100 noot ingooi die een Sondag. Ons kerk is in ‘n winkelsentrum naby my huis so ek het my beursie en selfoon by die huis gelos en net my tiende geld gevat. Terwyl ek in die kerk sit besef ek ek het nie parkeergeld nie. Ek sit toe met ‘n maklike keuse. Daar is ‘n boek van R90 waaroor die diens gaan, te koop. Dan het ek R10 vir parkering! Maar God sê toe duidelik vir my. As jy dit doen steel jy by My! Ek sê toe dis reg Here. Maar Hy moet plan maak. Ek kort minimum R6 om uit te kom of ‘n wonderwerk! Ek is te skaam om die kerk of kerkmense te vra vir R6! Hy sê toe net om Hom te vertrou. Ek bid die hele diens deur! Na kerk gesels ek eers met almal met die hoop een van hulle gaan my uit hul eie help! Maar niks. Toe stap ek na die masjien toe om my kaartjie in te druk. Nou hoop ek maar daar staan nul Rand! Maar toe nie! Ek kort R6! Met die staan daar toe ‘n wild vreemdeling agter my en gee my R6. Sommer maar net! Hoe werk dit! Maar ek moet die teen oorgestelde ook getuig. Nadat ‘n spreker gesê het jy hoef nie jou volle tiende te gee as jy swaar kry nie was ek baie bly! Maar ek het gou besef dat dit diefstal by God is. Ek moes die heeltyd geld by my ouers bedel vir goed todat ek repend het! Onthou net God kyk na jou hart. As jy net R10 gekry het, gooi R1 in of R2 met ‘n blye hart en kyk wat doen God vir jou! Jy wat R100 ingooi sodat almal jou kan sien! Jy is besig om met God te spot! Vra baie vinnig om vergifnis!



Hierdie hele boodskap wil ek in liefde oordra aan so veel moontlik mense. Nie oor dit ‘n storie oor my is nie. Want dit is nie! Dis ‘n ware verhaal wat gaan oor net een Persoon, en dis Jesus. Ek wil vir jou sê dat indien jy nie seker is oor jou saak nie, bekeer jouself vandag nog. Later is dalk te laat! Net jy kan dit doen! Ander kan jou net lei en help. Maar dis net die begin! Jy moet ‘n doelbewuste besluit maak om net vir Jesus te leef en alle aardse dinge te los. Hierdie is nie net ‘n godsdiens nie! Ek praat van ‘n God wat ‘n verhouding met jou soek! Elke dag. Heel dag! Hy is lief vir jou en sal jou NOOIT los nie. Sluit nie net aan by ‘n kerk nie, maar ook by ‘n selgroep waar daar ander wedergebore christene is wat jou kan help! Anders kontak my! dejagermw@yahoo.com

Baie liefde en seën vir elkeen wat Sy boodskap aanneem in Jesus Naam. Amen

No comments:

Post a Comment