Saturday 15 September 2012

Wat is my identiteit???








 "En God het gesê: Laat Ons mense maak na Ons beeld, na Ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip." (GÉNESIS 1:26).

"Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot ’n profeet vir die nasies gemaak." (JEREMIA 1:5).

"Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee. Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart. En Ek sal My deur julle laat vind, spreek die HERE, en julle lot verander en julle versamel uit al die nasies en uit al die plekke waarheen Ek julle verdryf het, spreek die HERE; en Ek sal julle terugbring na die plek vanwaar Ek julle in ballingskap weggevoer het." (JEREMIA 29:11-14).

"Want Ú het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is U werke! En my siel weet dit alte goed." (PSALMS 139:13-14).

"Groot dinge het U gedoen, HERE my God — U wonders en gedagtes vir ons; niemand kan met U vergelyk word nie. Wil ek dit verkondig en uitspreek, dan is dit te veel om te vertel." (PSALMS 40:6).

"Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom." (JESAJA 53:5).

"As julle My geken het, sou julle My Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien." (JOHANNES 14:7).

"Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in Sy Naam glo;" (JOHANNES 1:12).



"Ek skryf aan julle, my kinders, omdat die sondes julle vergewe is om Sy Naam ontwil." (I JOHANNES 2:12).

"In die huis van My Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei." (JOHANNES 14:2).

"Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is — God bly in hom, en hy in God." (I JOHANNES 4:15).

"Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie." (HEBREËRS 13:5).

"Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie." (ROMEINE 8:38-39).

"As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere — hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie. Want Ek is die HERE, jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland; Ek het Egipte gegee as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek." (JESAJA 43:2-3).

"En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is." (ROMEINE 8:28).

"As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!" (MATTHÉÜS 7:11).

"En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge." (ROMEINE 8:26).

"As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie." (II TIMÓTHEÜS 2:13).

"En in daardie dag sal julle My niks vra nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in My Naam, sal Hy julle gee." (JOHANNES 16:23).

"Ek wil U loof onder die volke, o HERE, en psalmsing tot U eer, onder die nasies; want U goedertierenheid is groot bo die hemel uit en U trou tot by die wolke." (PSALMS 108:4-5).

"En kyk, Ek kom gou, en My loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees." (OPENBARING 22:12).

"En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom." (I JOHANNES 4:16).

"Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë — hulle sal tot niet gaan; of tale — hulle sal ophou; of kennis — dit sal tot niet gaan." (I KORINTHIËRS 13:4-8).

"Die HERE het aan my verskyn uit die verte: Ja, Ek het jou liefgehad met ’n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid." (JEREMIA 31:3).

"Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor My." (JESAJA 49:16).

"As ek U hemel aanskou, die werk van U vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het — wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? U het hom ’n weinig minder gemaak as ’n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon. U laat hom heers oor die werke van U hande; U het alles onder sy voete gestel: skape en beeste, dié almal, en ook die diere van die veld, die voëls van die hemel en die visse van die see, wat trek deur die paaie van die see." (PSALMS 8:6-9).


"Want so sê die HERE van die leërskare: Hy het my gestuur agter heerlikheid aan na die nasies wat julle uitgebuit het; want wie julle aanraak, raak Sý oogappel aan." (SAGARÍA 2:8).

"En die HERE sal jou die kop en nie die stert maak nie, en jy sal net boontoe en nie ondertoe gaan nie as jy luister na die gebooie van die HERE jou God wat ek jou vandag beveel om te hou en te doen, en jy nie regs of links afwyk van al die woorde wat ek julle vandag beveel, om agter ander gode aan te loop om hulle te dien nie." (DEUTERONÓMIUM 28:13-14).

"Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het." (ROMEINE 8:37).

"Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen. Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om Sy Naam ontwil. Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: U stok en U staf dié vertroos my. U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor. Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae." (PSALMS 23:1-6).

"En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het." (GÉNESIS 28:15).

"Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot Sy wonderbare lig," (I PETRUS 2:9).

"Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle NIKS doen nie." (JOHANNES 15:5).

"Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee." (FILIPPENSE 4:13).

"Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE — dit is julle beskutting." (NEHEMÍA 8:11).

"En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal Sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar. En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet. Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ’n God wees, en hy sal vir My ’n seun wees." (OPENBARING 21:3-7).


"Julle is My vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van My Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in My Naam vra, Hy julle dit kan gee." (JOHANNES 15:14-16).

"DAAR is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees." (ROMEINE 8:1).

"Want julle het nie ontvang ’n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!" (ROMEINE 8:15).

"En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur Sy Gees wat in julle woon." (ROMEINE 8:11).

"want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur Sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is." (ROMEINE 3:23-24).

"Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê." (JOHANNES 3:16).

"As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees." (JOHANNES 8:36).

"En Ek rig My verbond met julle op, dat alle vlees nie meer deur die waters van die vloed uitgeroei sal word nie, en dat daar geen vloed meer sal wees om die aarde te verwoes nie." (GÉNESIS 9:11).

"Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing." (II TIMÓTHEÜS 1:7).

"IMMERS, Sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur Sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is." (II PETRUS 1:3-4).

"Daarom het Ek neergedaal om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos en hulle te laat optrek uit daardie land na ’n goeie en wye land, na ’n land wat oorloop van melk en heuning, na die woonplek van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete." (EXODUS 3:8).

"Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons." (II KORINTHIËRS 1:20).


"O ALMAL wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk! Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig. Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe; Ek wil met julle ’n ewige verbond sluit: die bestendige genadebewyse van Dawid. Kyk, Ek het hom tot ’n getuie van die volke gemaak, tot ’n vors en ’n gebieder van die nasies. Kyk, nasies wat jy nie geken het nie, sal jy roep; en nasies wat jou nie geken het nie, sal na jou hardloop, ter wille van die HERE jou God en van die Heilige van Israel, omdat Hy jou verheerlik het. Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik. Want My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie My weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is My weë hoër as julle weë en My gedagtes as julle gedagtes. Want soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter; so sal My woord wees wat uit My mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur. Want met vreugde sal julle uittrek en met vrede gelei word; die berge en heuwels sal voor julle in gejubel uitbreek, en al die bome van die veld in die hande klap. Vir ’n doringboom sal ’n sipres opgaan; vir ’n distel sal ’n mirteboom opgaan; en dit sal vir die HERE wees tot ’n naam, tot ’n ewige teken wat nie uitgeroei sal word nie. " (JESAJA 55:1-13).



No comments:

Post a Comment